• +27 44 884 0765
  • This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Smulpaap vrouens

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Hierdie is ‘n bittersoet verhaal van die vrouens wat op my lewe as sjef ‘n invloed gehad het, daar is baie maar ek het net ‘n paar uitgesonder om met julle te deel. As kind is jou eerste kennismaking met kos aan jou ma of ouma se tafel. In die begin jare was daar 3 vrouens wat ‘n groot invloed op my lewe gehad het.

Sally Ferreira, my ouma, was ‘n formidabele vrou, ‘n ware matriarg, wat sy gese het was wet. Sy het ook geglo dat jy alles met kos kan regmaak – hoeveel keer moes ek na bure, kennisse en Mev dominee toe gaan met ‘n bak kos. Goud gebraaide skaapboud nog in sy pansouse, heerlike frikkadelle, of ‘n bak soetkoekies – ek moet bieg ek het nou en dan ‘n frikkadel of koekie geëet as padkos.

So, van padkos gepraat, Ouma het die lekkerste padkos gemaak – die gewone gekookte eiers, hoenderboudjies, en platgedrukte tamatie-en-kaas toebroodjies – as ander mense dit maak is dit nie wat wonders nie maar ouma s’n was ‘n gastronomiese ervaring. Sy verlaat die lewe, glad nie soos sy beplan het nie, ‘n hart aanval oppad dorp toe. Ek sou graag vir haar wou sê – dat kos nie alles regmaak nie, maar dit help om die lewe se probleme op te los. Ek probeer nogsteeds uitvind wat haar magic touch was.  

Edna May Rademeyer, my ma, cinnamon & spice and all things nice. Sy het die hele wereld se sorge op haar rug gedra, sy het gevoel kos is daar om ons aan die lewe te hou. Al was daar swaar tye na sy en my pa geskei het, was daar altyd kos op die tafel. Al het sy partykeer gesê sy is nie honger nie, het ek en my broer nooit sonder iets gegaan nie. Sy kon uit niks die lekkerste kos maak. Sy wou almal net happy maak en haar beste dag in die jaar was Ou Jaar. Sy was die optimisme vanself en geglo more is altyd beter as vandag. Een saterdag oggend verlaat sy ons en die lewe onverwags, ek is kwaad maar besef dit is presies hoe sy wou gaan.

Nancy Ferreira, my stiefma, nie die steriotipe stiefma nie. Toe ek haar ontmoet was dit nogal traumaties want dit is die tannie wat my pa van my ma weggevat het. Ek sê vir haar ek gaan jou nie Ma noem nie. Sy sê sy wil nie my ma wees nie, maar sal graag my vriendin wil wees. Sy leer my om opera en ballet te waardeer en hoe om fyn te proe. Sy word 80, my Pa is nie meer daar nie maar my mentor, vriendin, ergste kritikus en grootste fan ontdek nou weer haar mojo – eet wat sy wil en proe nog so fyn as ooit. Aan die einde lê sy in die hospitaal en al wat sy wil eet is lekker fish en chips. Haar liggaam het haar brein in die steek gelaat. Sy gaan na ‘n plek waar sy nie meet pyn kan ervaar nie en los ‘n groot leemte in al ons lewens  

Toe ek in Oudtshoorn by die Suidkaap Kollege begin werk het, het ek een oggend in die voorportaal Mirieka Broodrijk ontmoet, sy is gefasineerd met my juwele en wou weet wat die simboliek of bedoeling van die stene was. ‘n Wonderlike vriendskap word gebore maar wat my tref is dat mense bang is om vir my te kook! Hoekom?? Dit gaan my verstand te bowe! Uiteindelik nooi sy my vir ete, a Humble Meal, soos sy dit noem. Macaroni en kaas met pampoenkoekies! Dit was heerlik ek het my pampoen koekies as nagereg geeet en dit ingeryg soos krale. Sien, dit is nie so erg om my vir ete te nooi nie. Moet ook nie verskoning vir die kos vra nie, ek kry ombliklik ‘n migraine en moet huis kry.

Alet Coetzer – joernalis en kunshandelaar is ook een van daardie mense wat gedink het sy is nie goed genoeg om my te nooi vir ete nie. Daar leer ek so baie van haar; nie noodwendig van kook nie maar die filosofie daar agter! Ons sjefs is maar baie keer tegnies van aard as dit by kos kom. Alet kan die eenvoudigste kos so keurig voorsit dat dit opsigself ‘n kunswerk is – sjefs wil altyd over present, Alet volg die KISS filosofie – keep it simple stupid!

Mandi Botha – joernalis en redakteur van formaat– is die verwesenliking van ‘n smulpaap. Sy raak nie net opgewonde oor bestandele nie, sy het ‘n love affair met hulle. Sy kan ‘n ode aan vye skryf of ‘n essay oor die genot van broodbak. Sy laat my weer bestandele wat ek as vanselfsprekend aanvaar het, herontdek.

In 1999 word ek deur die Brandewynstigting genooi na ‘n vreeslike grênd funksie, die sekretaresse bel my nogal om te vra of ek opgemerk het dit is streng “Black Tie” is? Ek wip my net daar en dan en sê “Kyk hier, pop, ek dra al lankal nie meer suits nie maar ek kan vir jou waarborg ek sal meer elegant en meer gemaklik as meeste van die mans in hul penguin suits by die funksie wees” Ek kom by die funksie aan in my swart gewaad, wat effe lyk soos ‘n Indiese kurta, eet heerlike kos, drink brandewyn en dans ‘n storm los met ‘n stunning blond. Die blond, Marliza van den Bergh, trek George toe en na al die tyd, eet en drink ons mekaar weer een aand raak. Marliza skryf soos ‘n droom en is ‘n uitstekende kok. Sy voel die lewe is te kort om slegte kos te eet, slegte wyn te drink en papier serviette te gebruik. Al eet jy net ‘n slaai aan huis met haar en haar man, is daar mooi linne serviette, mooi eetgerei en goeie wyn.

Vandag eer ons vroue. Ek wil vir julle almal sê; julle is almal smulpaap vrouens, julle leer jul kinders en kleinkinders hoe om die sosiale dans te dans en fyn te proe.

Doen so voort!

Cheers

 


© 2020 Francois Ferreira Academy. All Rights Reserved.